Gebalanseerde rantsoen sleutel tot diereprestasie

Mar 31, 2025 | Sheep

 Gebalanseerde rantsoen sleutel tot diereprestasie

Johan Mouton, Bestuurder van navorsing en produkontwikkeling, Molatek

Skape op ekstensiewe weiding selekteer hul eie kos, maar in ’n voerkraal moet die boer ’n spesifieke voedingstofbalans verseker. Volvoere is in dié opsig belangrik omdat dit konsekwente voeding en optimale groei ondersteun. Dié artikel kyk na die samestelling van ’n doeltreffende rantsoen vir kleinvee.

Koel, skoon water is noodsaaklik vir goeie rantsoeninname en metaboliese funksies. Kleinvee is herkouers, en die herkou-aksie bevorder vertering en voorkom asidose. ’n Ruvoerkomponent van
minstens 15% is nodig om herkou te stimuleer en gesonde vertering te verseker. Op natuurlik gespaarde droë winterveld met ’n proteïeninhoud van 4% kan kleinvee tot 10% proteïen selekteer.

Navorsing toon dat swak ruvoer, soos gemaalde mieliereste, ’n 10% laer inname en 25% swakker ekonomiese prestasie as lusern bied. Ruvoer van goeie gehalte verbeter nie net smaaklikheid nie, maar dra ook by tot ’n beter voeromsettingsverhouding en diereprestasie.

Rantsoensamestelling
Die vermindering van ruvoer in die finale fase van lamafronding of ramvoorbereiding word nie aanbeveel nie, aangesien vesel noodsaaklik bly om subkliniese asidose te voorkom. Dit is eerder die proteïen-energie-verhouding wat aangepas word.

Melasse kan stof bind en inname verbeter, maar te veel suiker of stysel kan voedingsteurnisse veroorsaak. Die optimale melasse-insluiting is 15%, wat stof beperk en energie voorsien.

Die rantsoen se fisieke eienskappe bepaal die aanvaarbaarheid daarvan vir die dier. Partikels moet 15-20 mm groot wees om selektiewe inname te voorkom. Indien die rantsoen te stowwerig is, kan 10% water tydens meng bygevoeg word, maar dit moet binne 24 uur verbruik word om fermentasie
te voorkom.

Beste kos. Om goed te kan groei, moet die kudde se produksiefase en voedingsbehoeftes in ag geneem word.

Tot 20% kuilvoer word dikwels by skaaprantsoene ingesluit, maar hoër insluiting kan die totale  droëmateriaalinname beperk. Kleinvee se droëmateriaalinname behoort 3,8% tot 4,2% van die  liggaamsgewig te wees. Om diere twee keer per dag te voer, is voldoende vir ekonomiese diereprestasie, hoewel een voeding per dag ook doeltreffend kan wees.

In Molatek-studies het een voeding per dag ’n inname gelykstaande aan meer as 4,3% van die liggaamsgewig getoon. ’n Oormatige verhoging van inname kan egter die verteringstempo versnel, wat ’n ekonomiese verlies tot gevolg het. Verkorrelde voer is gerieflik, maar het koste-implikasies.

Studies toon dat losmaatvoer en korrels van verskillende groottes min verskil in diereprestasie meebring. Die gehalte van die rantsoen se onverwerkte bestanddele is belangriker as die feit of die rantsoen verkorrel is. Die belangrikste komponent van ’n volvoerrantsoen is die energiebron. Mielies is die vernaamste keuse, en wit- of geelmielies is ewe geskik. Dit moet egter gebreek word om vertering te verbeter. Gars kan mielies vervang, maar koring en hawer moet tot 20% beperk word. Graan van  swak gehalte wat moontlik muf bevat, moet vermy word.

Mieliesemels (hominy chop) in afrondingsrantsoene vir kleinvee is nie ideaal nie. Sekere mineraalverhoudings in grane kan blaasstene en melkkoors veroorsaak. Voerkalk word dikwels teen hoë vlakke ingesluit om hierdie probleme te voorkom, maar te veel kan spoormineraalopname onderdruk en rantsoeninname beperk.

Skaapvetmeskonsentraat (reg.nr. V14344, Wet 36 van 1947) en Wolmeester (reg.nr. V19782) word aanbeveel om ’n gebalanseerde mineraalverhouding te handhaaf en die risiko van asidose en  blaasstene te verminder.

Monitering belangrik
Dit is noodsaaklik dat produsente voortdurend die inname en prestasie van hul kleinvee monitor om rantsoenaanpassings te maak indien nodig. Faktore soos seisoenale verskille, die ouderdom van diere en produksiefases kan ’n invloed op voedingsbehoeftes hê. Deur gereeld voedingstoetse te doen en ’n voedingkundige te raadpleeg, kan produsente verseker dat hul diere optimale voeding ontvang.

’n Ideale rantsoen is smaaklik, stimuleer herkou, voorkom rumensteurnisse en verbeter  diereprestasie. ’n Rantsoen met ’n gebalanseerde verhouding tussen energie, proteïen en minerale,
asook gehalteruvoer verseker optimale groei en winsgewendheid vir kleinveeprodusente. Deur inname, voeromsetting en ekonomiese prestasie noukeurig te monitor, kan produsente hul voerkoste optimaliseer en hul kudde se gesondheid en produktiwiteit verbeter.

 

 

Should you have any questions or concerns regarding how to properly feed your bull herd during the winter months or preparing them for an auction, contact your Molatek Technical Advisor.

Get to know your technical advisors

Contact us for expert advice

Technical support for farmers ensuring good relationships to drive demand through co-ops.