Die voedingsprogram van ‘n reproduktiewe kudde is baie belangrik as die boer wil hê die koeie moet ekonomies presteer. Molatek gee raad oor die rol wat fosfaat speel.
Die voeding van ‘n reproduktiewe kudde vir volhoubare ekonomiese produksie is ‘n hulpbronspesifieke probleem. Die aanbod van droëmateriaal, die gehalte teenoor kwantiteit en die beskikbare plantvoedingstowwe speel alles ‘n rol om ‘n bemarkbare speenkalf te produseer. Die aanbeveling van 10-15 g fosfaat/ bees/dag in die somer is baie min as in ag geneem word dat ‘n koei 12 kg en meer droëmateriaal daagliks inneem. Fosfaat word as ‘n makromineraal geklassifiseer met die vernaamste funksie die oordrag van energie in ‘n dier se liggaam. Dit beinvloed onder meer energiemetabolisme, spierfunksie en die sintese van protein. Fosfaat word in die skelet opgeberg en is ook verantwoordelik vir die groei daarvan. Alle ander produksiefaktore, soos genoeg weiding, kan reg wees, maar die kudde kan swak presteer bloot omdat daar ‘n tekort van ‘n paar gram fosfaat is. In die algemeen kan aanvaar word dat Suid-Afrika ‘n fosfaattekort het met weiding se inhoud wat laer as 0,2% is. As riglyn kan 5 g fosfaat in die winter en 10-15 g/dier/dag in die somer gegee word.
GEEN FOSFAAT?
Wat sal gebeur as geen fosfaat aangevul word nie, veral vir diere wat in die winter op oesreste was? Die kort antwoord is: Waarskynlik niks. Weens diere se inherente vermoë om fosfaat op te berg, kan daar vir lang tye geen aanvulling gegee word nie sonder waarneembare simptome. ‘n Fosfaattekort kan amper as ‘n erosiesiekte beskryf word, aangesien simptome baie geleidelik ontstaan en kuddes steeds kalwers met inkomste produseer.
VOEDSAAM. As beeste nie ‘n fosfaataanvulling kry nie, kan dit in sekere gevalle lei tot onder meer aptytverlies, melkverlies, swak reproduksie en swak fetusgroei.
Tipiese simptome wat ook ander oorsake kan hê, is die volgende.
– Aptytverlies.
– Gewigsverlies.
– Melkverlies.
– Lae speengewig.
– Swak reproduksie.
– Abnormale vreetgewoontes.
– Vassit van nageboorte.
– Swak fetusgroei met lae geboortegewig.
Die wetenskap van fosfaataanvulling vir Suid-Afrika is goed bestudeer deur onder andere drs. De Waal, De Brouwer en Groenewald. Geboortegewig van 3,7 kg ligter, speensyfers wat van 73% tot 48% daal, en speengewig van 50 kg ligter is aangeteken waar fosfaat nie teenwoordig was nie. Vrektes van tot 17% is aangeteken met ‘n fosfaattekort as oorsaak. Die TABEL beklemtoon die invloed van kondisie op herbesetting waar fosfaat ‘n groot rol speel. Hierdie werk is gedoen in ‘n studie oor die vroeë paring van verse. Monokalsiumfosfaat is die hoogs opneembare van fosfaatbronne. Die Molatek-produkreeks het twee produkte wat daarmee vervaardig word. Foslek (reg.nr. V16509, Wet 36 van 1947) met 5% fosfaat en 10% protein is veral nuttig tydens die midsomerdroogte wanneer gras se gehalte kan daal. Fosblock (reg.nr. V22502) het 6% fosfaat en is reënbestand. Dit werk baie doeltreffend waar reën nie die aanvulling benadeel nie. Anders as protein, kan die weeklikse inname uitgesit word. As dit klaar is, kan dit eers weer die volgende week uitgesit word, wat inname reguleer.
WINTERWEIDING
Onderskeid moet getref word tussen lente- en aktiefgroeiende weiding. Warm weer met nog oorwegend dooie winterweiding is uit ‘n voedingsoogpunt nog winter. Die protein (of produksielek) wat op winterweiding gegee word, moet net so gehandhaaf word. Skuif eers na Foslek/Fosblock op groen weiding oor as die diere se mis los is en ‘n groen skynsel het. Al word so min as drie teelepels fosfaat (± 200 g Foslek) vir ‘n lakterende koei per dag aangevul om die tekort aan te vul, het dit ‘n wesenlike invloed op die ekonomiese prestasie van die kudde. Hoewel die koste van ‘n eenheid fosfaat hoog voel, is dit ‘n eenvoudige besluit binne die konteks van die waarde van ‘n speenkalf.
Mnr. Johan Mouton is die tegniese bestuurder van navorsing by Molatek.