Vleis van Veld – Johan Mouton
Die grootste komponent van rooivleis wat verbruik word in Suid Afrika is voerkraal gebasseerd met graan wat ‘n wesenlike deel van die afrondings dieet uitmaak. ‘n Hoë digtheid dieet bestaande uit ± 13% proteien en > 11 MJ/Me word benodig om in die korste moontlike tyd tot by ‘n bemarkbare karkas te vorder. Die produksiestelsel het ontwikkel tot ‘n gespesialiseerde voerkraalbedryf.
Hierteenoor het rumendiere die vermoë om natuurlike weiding wat in oorvloed in die natuur voorkom om te skakel na proteïen, sonder dieselfde vlakke van eksterne insette as by ‘n konvensionele voerkraal. Die feit dat insette in terme van aanvulling laer is by vleisproduksie van veld maak die stelsel nie minder gespesialiseerd nie. Dit is ‘n ander benadering tot ‘n markklaar produk met sy eie uitdagings en moet nie vergelyk word met ‘n voerkraal nie.
Uit ‘n produksie oogpunt is daar ‘n aantal faktore wat in ag geneem moet word indien bemarkbare vleis van veld produseer wil word.
- Genetiese samestelling van die dier
- Hulpbron se voervloei
- Produksiestelsel van die produsent
- Praktiese realiteite
Genotipe
Hierdie is ‘n gespesialiseerde onderwerp op sy eie maar dit is wel bekend dat sekere genotipes beter aangepas is om bemarkbare vleis vanaf die veld te produseer. Dit kan vroeër of later ryp tipes wees afhangend van die produksiestelsel wat gevolg gaan word. Diere wat in ‘n agtienmaande bemarkinstelsel is en in die herfs bemark wil word moet verkieslik later ryp wees. ‘n Produksiestelsel waar diere direk na speen op besproeide weiding afgerond word verkies weer vroeër ryp diere.
Geslag het ‘n groot rol te speel. Net soos in die geval met ‘n voerkraal is verse geneig om vinniger vet te akkumuleer en ligter karkasse te produseer. Dit moet nie as ‘n negatief gesien word nie aangesien die koste van massatoename normaalweg laag is en verse ekonomies op die veld afgerond word.
Welke produksiestelsel gevolg word met manlike diere moet diere kastreer word aangesien ongekastreerde diere baie stadig vet akkumuleer op weiding en konstant karkasgroei openbaar. In ‘n RCL Animal Feeds studie op besproeide raaigras het alle diere wat gekastreer was A2 karkas graderings behaal met selfs lae vlakke van aanvulling. By ongekastreerde diere het 36% van die karkasse A1 graderings behaal teenoor die 64% wat A2 gradeer het met hoë dightheid voer van tot 1% van liggaamsmassa aanvulling.
Hulpbron se voervloei
Voervloei is die deurslaggewende faktor vir suksesvolle vleisproduksie vanaf veld. In die inleiding is gemeld dat die behoefte vir afronding ± 13% proteïen en > 11 MJ/Me is. Dit is tipies ‘n mengsel van met 71 % graan, 16% Beesvet 33+, 80 Molassameel en 10% ruvoer. Dit laat groei diere teen 1.6 – 1.8 kg per dag en rond hulle in 120 dae af. Hierdie is die boonste sport van groei en diereprestasie.  Geen weiding het die vermoë om vir 120 dae voedingstowwe teen hierdie tempo te lewer nie. Vandaar ‘n ander denkwyse en filosofie wat diere stadiger laat groei, maksimum van die weiding gebruik maak en die koste van massatoename so laag moontlik hou.
Diere kan in die hoogsomer 13% proteïen uitselekteer in veld met hoë vlakke van energie maar nie om op dieselfde vlak as voerkraaldiere te presteer nie. Die seisoenale aard van weidingproduksie soos getoon in figuur 1 dikteer vanselfsprekend dat vleisproduksie vanaf veld gedurende die somermaande moet geskied. Suid Afrikaanse winterveld benodig reeds redelike vlakke van aanvulling net om massa te handhaaf. Die produksie van A2 karkasse is eenvoudig net nie ekonomies lewensvatbaar nie. Dit beteken nie dat die winterveld nie deel van so ‘n produksiestelsel sal uitmaak nie maar wel dat die somerveld die tydperk is waar die waarde toegevoeg word en die geld gemaak word. Variasie kom op die tema voor waar winterbesproeiing en oesreste beskikbaar is.
Figuur 1. Weidingproduksie.
 ‘n Onderwerp op sy eie is die effek van somerveldbenutting op diereprestasie wat deurslaggewend vir sukses is. Die basis hiervan is dat diere altyd toegang tot jong weiding moet geniet om die beste diereprestasie te genereer.
Indien die aspekte van hulpbroninstandhouding en verhoogde diereprestasie saamgevoeg word, is die produksiestelsel om beide doelwitte te bereik  eenvoudig. Gestel die hulpbron is 100 hektaar groot en kan 20 diere volhoubaar hanteer. Al 20 diere word een seisoen op 50 hektaar geplaas en die ander 50 hektaar ontvang ‘n groeiseisoensrus. Die oppervlaktes roteer dan op ‘n jaarbasis. (Die beginsel lê in die rus gedurende die groeiseisoen) Verskeie variasies kom op die beginsel voor, maar die gedeelte wat benut word, word die weiding binne perke kort ontblaar en die kans gegun om die volgende seisoen uit te groei. Die uitgegroeide weiding kan wel as winterkos dien.
Produksiestelsels
Waar besproeiing beskikbaar is kan kalwers direk na speen gedurende Mei op raaigrasweiding geplaas word. ‘n Energie – Proteïen aanvulling van 0.5 – 1% van liggaamsmassa word gegee om teen middel November afgeronde karkasse te produseer. Ongeveer 1200 kg lewende massa kan per hektaar produseer word met die praktyk. Raaigraskoste en bestuursinsette kan die ekonomie van die stelsel onder druk plaas wat deeglike beplanning noodsaak.
‘n Hulpbronsamestelling van veld en genoegsame oesreste open die geleentheid dat kalwers nagenoeg 50 kg massa kan toeneem gedurende die wintermaande. Diere moet deurgaans toegang tot vars gestroopte lande hê tesame met ‘n proteïen produksieaanvulling soos Restelek. Gedurende die somer vind die afrondfase plaas met ‘n energie produksieaanvulling (Background 18). Die weidingsbestuur tesame met aanvullingspeile van nie meer as 1% van liggaamsmassa gedurende die somer is deurslaggewend vir sukses in hierdie stelsel. Gedurende die laaste 4-6 weke kan aanvulling verhoog word.
Die uitdagende scenario is waar net weiding beskikbaar is. Soos reeds genoem is ekonomiese produksie gedurende die wintermaande nie lewensvatbaar nie. Kallers word oorwinter met ‘n produksielek (Meester 20 / Kondisielek) op die mees beskutte veld van weiding wat gedurende die somer gespaar is. Die doel is om massaverlies te voorkom. Slegs ‘n proteïenaanvulling (Dryveld 46 / Proteïenlek 40) is onvoldoende vir die diere en massaverlies van ongeveer 20 kg kom voor.  Kompensering gedurende die somer is nie voldoende om by ‘n mark gereed dier te kom nie. Gedurende die somer word weer ‘n energie produskieaanvulling (Background 18) gebruik om diere op kort veld af te rond teen die einde van die somer.
Aangeplante weiding kan in die somer gebruik word wat primêr weikapasiteit opstoot met ‘n effense verhoging in diereprestasie. Bemeste weiding (Smuts / Sorghumtipes) kan 300 – 400 kg lewende massa onder droëlandtoestande vir die somer produseer.
Â
Praktiese realiteite
Weens die feit dat die omgewing en voeding nie naastenby beheer kan word soos met voerkraaltoestande nie is daar noodwendig meer variasie in die uitkoms van diereprestasie. Dit beteken diere word soms vroeër as “stoorosse†bemark wat nie noodwendig afgerond is nie of kan vir ‘n kort tyd na die voerkraal gaan. Bestuursbesluite moet oop wees vir verandering en aangepas word namate die seisoen ontwikkel. Soos reeds genoem pas uitskotverse goed in die stelsel in en rond met meer sekerheid af.Â
Karkasse produseer binne hierdie produksiestelsels is geneig om vet wat geel kan wees te produseer waarteen die mark soms onregmatig diskrimineer. Variasies kom op die tema voor. Binne die navorsingswerk van RCL Animal Feeds is nog nooit prysdiskriminasie ondervind nie maar daar is voortydig met opnemers van die karkasses in die verband onderhandel. Uitslagpersentasie van karkasse produseer onder hierdie toestande neig effens laer te wees maar koste van massatoename is doeltreffend.
Opsom
Die produksie van A2 karkassa sonder ‘n voerkraal is prakties haalbaar in Suid Afrikaanse omstandighede maar moet nie in kompetiesie met voerkrale gesien word nie. Gekastreerde diere wat genotipies aangepas is by die produksiestelsel wat gevolg word met weidingsbestuur wat voordurend jong kwaliteit weiding aan diere verskaf is deurslaggewend. Winters kan deel uitmaak van die stelsel maar ekonomiese produksie is nie haalbaar in die tydperk nie.
Verwysing: Kynoch Weidingshandleiding, Herdruk 2005.